VRYSTAAT. – Ses verdagtes is Dinsdag vir beweerde huisroof en ontvoering deur die polisie van Tseki vasgetrek nadat twee slagoffers ontvoer en gedwing is om geld te trek. Die slagoffers is twee dae na die ontvoering deur die polisie gered.
Sers. Mahlomoli Kareli sê die slagoffer en sy vriend het Maandag geslaap toe iemand aan die deur klop. Die persoon het voorgegee hy soek ‘n plek om drank te koop. Hy het daarop die slagoffer met ‘n vuurwapen gedreig terwyl nog vyf ander verdagtes met klapmusse die huis binnegestorm het. Die slagoffer en sy vriend is geblinddoek en na ‘n huis geneem waar hulle angehou en forseer is om ‘n groot som geld in ‘n rekening in te betaal.
‘n Span polisielede is Dinsdag na die huis waar die twee slagoffers aangehou is nadat inligting ontvang is. Die slagoffers is gered en die ses verdagtes is in hegtenis geneem.
Die polisie het ook ‘n wit Toyota Fortuner, wat vermoedelik in die pleeg van die misdaad gebruik is, gekonfiskeer.
Die ses verdagtes sal binnekort in die Phuthaditjhaba-landdroshof verskyn.





