OOS-KAAP. – Eddie Ncube (48), ‘n voortvlugtige verdagte en ‘n buitelandse burger, is op 22 Junie deur die Valke in hegtenis geneem ná die ontvoering van ‘n kind vir wie ‘n losprys geëis was.
AO Ndiphiwe Mhlakuvana, Valke-woordvoerder, sê die voorval het op 4 Februarie 2025 plaasgevind, kort ná 15:00, toe twee skoolkinders op pad was van die skool na ‘n winkel in Buffalo Flats, KuGompo. Volgens die polisie het ‘n groep mans in ‘n silwerkleurige Toyota Corolla die kinders genader en een van hulle, ‘n 9-jarige seun, met geweld in die voertuig getrek voordat hulle weggery het.
Die Valke het onmiddellik ‘n ondersoek na die ontvoering geopen en kort daarna is ‘n losprysbedrag van die deur die ontvoerders van die gesin geëis. Die soektog na die verdagtes het oor maande heen voortgeduur, met speurders wat voortdurend op intelligensie-inligting gesteun het om die voortvlugtiges op te spoor. Ná intense speurwerk is Ncube uiteindelik op 22 Junie in KuGompo vasgetrek. ‘n Tweede verdagte in die saak het egter tot dusver daarin geslaag om uit die hande van die wet te bly.
Ncube het reeds in die KuGompo-landdroshof verskyn. Die hof het die saak vir ‘n borgaansoek tot 7 Julie uitgestel. Hy bly ntussen in aanhouding.





