OOS-KAAP. – Twee kinders het gesterf nadat sewe, onderskeidelik van Msintsi naby Berlyn en in NU Mdantsane, vermoedelik Saterdag voedselvergiftiging opgedoen het.
Die departement van gesondheid in die provinsie sê die twee kinders is met hul aankoms by Cecilia Makiwane-hospitaal dood verklaar. Vyf ander kinders word steeds behandel, van wie een in ’n kritieke toestand in die Frere-hospitaal is. Volgens voorlopige inligting het ses van die kinders saam versnaperinge geëet voordat hulle ongesteld geraak het.
Noodmaatreëls is ingestel en omgewingsgesondheidsbeamptes ondersoek die omstandighede van die voorval. Die departement het sy innige meegevoel met die betrokke families uitgespreek en sê mediese en psigososiale ondersteuning word aan die gesinne gebied.






