VRYSTAAT. – Drie verdagte mans, tussen 29 en 40 jaar oud, is Dinsdag in hegtenis geneem nadat hulle na bewering by ‘n huis ingebreek en ‘n boer met ‘n klip op die kop geslaan het.
AO Mmako Mophiring sê aan Nuusflits die boer het die plaas omstreeks 10:00 verlaat om een van sy werknemers te gaan haal. Toe hy terugkom, het hy opgemerk dat twee skootrekenaars weg is. Die werknemer het gesien hoe drie verdagtes die veld in hardloop.
Die boer het een van die verdagtes gekonfronteer, toe die ander twee hom volgens bewering met ‘n klip aangeval het, wat ‘n oop wond veroorsaak het. Privaat veiligheidsbeamptes het gesteelde skootrekenaars teruggekry en die drie verdagtes aangehou.
Die verdagtes is aan die Harrismith-polisie oorhandig en aangekla van huisinbraak, diefstal en aanval met die doel om ernstige liggaamlike besering toe te dien. Hulle sal na verwagting vandag in die plaaslike landdroshof voorkom.





