LAOS. – Volgens Euronews het vier van die vyf mans wat meer as ‘n week lank in ‘n oorstroomde grot in Sentraal-Laos vasgekeer was, Saterdag op eie stoom na veiligheid geklouter nadat die watervlak genoegsaam gedaal het. Reddingswerkers, wat op die punt was om ‘n hoërisikoplan in werking te stel om die vasgekeerde mans deur die oorvloede tonnels na veiligheid te begelei, was stom van verbasing toe hulle die vier by die ingang na die grotte teëgekom het. Een man was reeds deur die reddingswerkers gered.
Die groep van vyf mans is op 20 Mei die grot in op soek na minerale toe kitsvloede die uitgang versper het. Internasionale reddingspanne het daarna ‘n uitgebreide reddingsoperasie van stapel gestuur.
Twee mans wat die grot vroeër as die vyf binnegegaan het, word steeds vermis, terwyl reddingswerkers die gebied bly deursoek.
Bronne: Euronews; BBC News





