GAUTENG. – Ses mense is dood en 18 ander beseer toe ’n taxi Dinsdag op die R59 naby Meyerton onder skoot gekom het en omgeslaan het.
Volgens Gauteng-polisiewoordvoerder, kapt. Tintswalo Sibeko, was ’n taxi vanaf Johannesburg na die Vrystaat op pad toe ’n Nissan Juke met drie mans glo teen die voertuig gebots en daarna op die insittendes losgebrand het. Die taxi het beheer verloor en omgeslaan. Ses passasiers is op die toneel dood, terwyl 18 beseerdes na hospitale geneem is vir behandeling.
Die Nissan Juke is glo in September verlede jaar in Witbank as gesteel aangemeld. Ná die voorval het die verdagtes na bewering ’n ander voertuig in Johan le Rouxweg gekaap en probeer wegkom.
Polisie-eenhede, insluitend K9, Opod, Kliprivier Vispol, Midvaal-verkeer, Midvaal-vredesbeamptes en private veiligheidsdienste, het saamgespan en die drie verdagtes in Valley Settlement, Kliprivier, opgespoor en in hegtenis geneem.
Die polisie ondersoek ses aanklagte van moord, 18 van poging tot moord, asook motorkaping en die besit van ’n gekaapte voertuig. Die verdagtes sal binnekort in die hof verskyn, terwyl ondersoeke voortduur.





