STELLENBOSCH. – ’n 60-jarige stapper is Donderdagoggend gered nadat hy sowat 40 meter van die Tweede Waterval-roete in die Jonkershoek-natuurreservaat geval het.
Die man was deel van ’n stapgroep toe hy glo skeef getrap, gegly en teen die steil terrein langs die roete afgeval het. Sy medestappers het hulp ontbied nadat hulle ’n plek met selfoonsein bereik het.
’n Klein reddingspan, insluitend ’n paramedikus, is per helikopter na die toneel gevlieg, terwyl bykomende redders en ’n span van CapeNature met gespesialiseerde toerusting na die beseerde man gestap het.
Die beseerde stapper is op die toneel behandel, met behulp van ’n toustelsel terug op die roete geplaas en daarna per reddingshelikopter na veiligheid ontruim.
Bron: WSAR Western Cape Facebook-blad





