TURKYE. – ’n Veertienjarige leerling het nege mense doodgeskiet en nog 13 beseer in ’n skoolskietery in die suidelike provinsie Kahramanmaras, het owerhede bevestig.
Volgens Sky News het die provinsiale goewerneur, Mukerrem Unluer, gesê die graad 8-leerling het by die skool opgedaag met vyf vuurwapens en sewe magasyne in sy rugsak, wat glo aan sy pa behoort.
Die skietery het in twee klaskamers plaasgevind. Die aanvaller is dood, maar dit is nog onduidelik of hy deur die polisie geskiet is en of hy sy eie lewe geneem het.
Polisie is besig om die motief vir die aanval te bepaal.
Die voorval volg skaars ’n dag ná nog ’n skietery by ’n hoërskool in die naburige provinsie Sanliurfa, waar 16 mense – insluitend leerlinge en onderwysers – beseer is toe ’n voormalige leerling op hulle losgebrand het.
In daardie geval het die skieter later die vuurwapen op homself gerig.
Owerhede ondersoek beide voorvalle.
Bronne: Sky News, CNN





