Sedert Rusland se inval in Oekraïne in Februarie het almal die nuus slaafs gevolg. Iewers het Michele Potgieter verskyn en Suid-Afrika se media van inligting voorsien.
Tydens ‘n morsige, pretbelaaide kunsafspraak by Clay Café in Montana, Pretoria maak sy teenoor FiND iT se beriggewer oop oor die liefde wat sy verloor het en die mooi in die Here wat alles vir haar oorheers.
Die vrou met die skaam glimlag, sagte stem en dromerige oë vertel met emosie van haar warrelwind trek saam met Ockert uit Suid-Afrika na Oekraïne, amper 26 jaar gelede.
Hulle het mekaar by ‘n selgroep ontmoet en is in Januarie 1996 getroud.
“Ons het na ons troue vir ons wittebrood weggery. Iewers by Nelspruit het ons stilgehou waar ons ‘n verbond met die Here gemaak het vir onsself en kinders wat in ons huwelik gebore sou word en daar het Ockert my vir die eerste keer gesoen,” vertel Michele met blink onthou-oë.
Twee weke na hulle troue het “die man wat alles gehad het” haar land-uit gevat. Ockert het as topstudent sy doktorsgraad in Suid-Afrika ontvang. “Hy het sy loopbaan by RAU laat vaar, alles verkoop en saam was ons op pad na waar die Here ons wou hê.”
“Al die sukses en wat ons gehad het, het vir Ockert leeg gevoel en hy wou die Here se werk gaan doen.”
Op aandrang van jongmense uit Moskou en Reni het hulle sendingwerk onder Christene wat voorheen deur kommuniste vervolg is, gaan doen. Reni was dus hul logiese volgende tuiste.
“Ons het ‘n huis daar gekoop wat ons nog nooit gesien het nie. Hy was in ‘n toestand. Ek wou duisend keer terugkom, maar het dit nooit gesê nie.”
“Ons het so koud gekry – ons is somertyd uit Suid-Afrika en het in -24° daar aangekom. Ons het lae op lae klere aangetrek, maar dit het nie gehelp nie. Twee jaar later het ons eers uitgevind ons moes die regte klere vir dié temperature koop!” lag sy.
Daar was niks in die winkels nie. Niks was tydens die kommunistiese bewind ingevoer nie en net basiese benodigdhede was beskikbaar.
“Ongeveer vyf jaar later het winkels eers met die wêreld opgevang. Ek het nooit gedink dat ek so opgewonde kon raak oor ‘n Tupperware-bak wat ek in Tsjeggië gesien het nie.”
Michele en Ockert se vyf kinders is almal in Suid-Afrika gebore.
Die eerste jare in Reni is hulle van spioenasie verdink en die KGB sowel as die Mafia het hulle geteiken om hule uit die land te probeer kry.
“Ons oudste, Joshua, was ‘n baba toe die Mafia ons eendag oorval het en in die bunker van ons huis inforseer het. Hulle het ‘n geweer in my gesig gedruk en ek het drie keer gedink hulle gaan my skiet. Hulle het ‘n handgranaat op die bunker se deksel gesit. Gelukkig het my skoonsussie van ‘n balkon gespring om hulp te verkry en die polisie kon ons kom uithaal. Al ons geld is gesteel.”
“Ek was vir vyf jaar angstig totdat ek Psalm 91 my eie gemaak het.”
Omdat die area waarin hulle gebly het onder alkoholmisbruik gebuk gegaan het en soveel kinders op straat was, het Michele, met ‘n onderwysgraad, ‘n kleuterskool oopgemaak. Sy en die wonderlike span wat saam met haar werk, versorg tans 70 kinders en voorsien daagliks drie etes aan hulle.
“Ek doen dit al vir 21 jaar en in hierdie tyd kon ons vir 22 weeskinders gesinne gee.”
Sy vertel hartseer hoe kinders deur hulle ma’s in die baba-afdeling agtergelaat word. Indien jy hulle besoek, mag jy nie aandag aan hulle gee nie. Hulle moet vir langer as ‘n jaar op net ‘n kaal matras bly. Michele beskryf hulle velle as glasig.
Michele en haar span maak staat op donasies uit veral Londen en Suid-Afrika en sukkel al vir 20 jaar om hul kerkgebou in Reni te behou. Die eerste vloer is ‘n koffiewinkel, die tweede vloer is vir funksies en die derde vloer is hul kerk.
Tragedie het verlede jaar hierdie tyd getref toe hulle in SA kom kuier het. Eers is haar pa dood. Toe doen sy en Ockert Covid op en die ondenkbare gebeur – sy verloor haar steunpilaar en held toe hy in George se staatshospitaal sterf.
“Ek het op die strand gaan sit en deur die nag gehuil en met die Here gepraat. Ek wou in George bly. Ek was op die uiteinde so tevrede dat Ockert alles gedoen het wat hy wou en dat hy in so ‘n mooi plek dood is. Ek weet waar hy is.”
“Die Here het vir my gesê: ‘Gaan terug, Ek is jou pa en man.’ Ek het eintlik geskrik toe ek hardop vir my seun, Ivan, sê ons gaan terug Oekraïne toe,” vertel sy aangedaan.
Teruggaan was nie so maklik met die inperkings nie, en daar was reeds sprake van oorlog. Maar in Februarie is hulle terug, betyds om ‘n funksie vir gestremdes, Night to Shine, van die Tim Tebow-organisasie te hou.
Op 20 Februarie is haar seun getroud en hulle was ‘n paar dae in Oedessa toe hulle wakker word met die nuus van oorlog.
“Ek het my seun gebel en gesê hulle moet uit Oedessa kom. Omdat almal uit Oedessa wou vlug, het ‘n vier uur busrit hulle nege uur en baie geld gekos. R150 of 300 griwnja word toe eensklaps $100.”
“Die sirenes is die aakligste geluid om te hoor,” sê sy met in haar oë die herinneringe van wat sy al beleef het.
“Bomme en missiele tref onskuldige mense wat soms tot ‘n maand in ‘n bunker bly, mense gaan aan blote angs dood. Hulle kom met net die klere aan hul lywe by ons aan en ons voorsien aan almal. Die Here is so goed dat donasies bly instroom. Ons het in die yskoue mense wat vir dae kilometers ver staan om deur die grense te gaan, van kos voorsien.”
Michele verduidelik trots hoe vinnig die Oekraïners ‘n plek wat onder aanvalle deurloop, skoonmaak en herstel.
Sy sê sy het haar geboorteland en haar aanneemland ewe lief.
“Zelenski is ‘n mense-mens, ‘n held. Hy lewe vir ander en gee elke dag hoop en bemoediging. Hy is in die loopgrawe, hy ly saam, veg saam en huil saam.”
“Poetin se siening is om Rusland terug te bring na sy ou glorie en die lande terug te vat wat weggebreek het.”
Sy sê Russiese soldate wil nie daar wees nie. Sommige is met houtgewere daar. Hulle was onder die indruk dat hulle vir ‘n millitêre oefening sou gaan. Van hulle is blote kinders.
“Oekraïne behandel Russiese soldate wat gevange geneem word so goed, maar dieselfde kan nie van Rusland gesê word nie.”
“Ek is verstom dat Reni, wat ‘n bevolking van 15 000 mense het, wat in die Oedessa-area is, se klein hawe nog staan, want hy word, omdat hy in so ‘n hoek weggesteek is, nou vir uitvoere gebruik terwyl ander hawens besaai is met land-en seemyne.”
“My hartsbegeerte is dat mense se geloof hulle moet versterk in die Here, waar die veiligste plek is. Dat ek vir mense deur die Here hoop kan gee en dat Hy verheerlik sal word. Al mis ek vir Ockert, het ek elke dag ‘n onnatuurlike blydskap in my.”
Vir nou kuier sy lekker in Suid-Afrika omdat al haar familie bymekaar is. Sy sê beurtkrag pla hulle nie, want dan bring hulle kwaliteit familietyd deur. Dit bly vir hulle vreemd om sonder bomme wat ontplof wakker te word. Vroeg in Desember gaan sy terug na Reni op die linkerkantste bank van die “Blou Donau” om haar werk voort te sit.
Michele se gunstelingwoord is “familie” en in Oekraïens is dit “”simja.”
FiND iT Nuus wens hierdie merkwaardige vrou net die mooiste in die lewe toe.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.





