Huishoudelike dispuut glo agter dodelike brand in Jhb-middestad

Lees ook :

'n Vrou is in hegtenis geneem en verskyn Maandag in die hof. Foto: Facebook-COJ Public Safety

JOHANNESBURG, GAUTENG. – ’n Huishoudelike dispuut het na bewering tot die uitbreek van Sondag se dodelike brand in ’n gebou in Commissionerstraat in Johannesburg se middestad gelei. ’n Vrou (30) het glo die gebou rondom 04:00 aan die brand gesteek. Twee mense het omgekom.

Kabelo Gwamanda, burgemeester van Johannesburg, het Sondagmiddag op die toneel gesê verdere besonderhede sal beskikbaar wees sodra die vrou ’n beëdigde verklaring afgelê het. Sy is tans in aanhouding en sal op ’n aanklag van moord teregstaan.

Kol. Dimakatso Nevuhlwi het gesê die verdagte sal Maandag in die Johannesburgse landdroshof voorkom.

Twee mense is dood en vier ander is in die brand beseer. Times Live berig beseerdes het glo van ’n balkon probeer spring in ’n poging om aan die vlammehel te ontsnap.

Verder is 160 mense sonder heenkome nadat die gebou ontruim moes word. Die stad werk aan ’n plan om alternatiewe huisvesting aan die inwoners te bied.

Volgens Floyd Brink, stadsbestuurder van Johannesburg, is die brand deur ’n moniteringstelsel opgespoor en het hulle nie ’n noodoproep oor die brand ontvang nie. Brandbestryders was glo binne tien minute op die toneel.

Bewerings bestaan dat die gebou waarin die brand uitgebreek het, ’n gekaapte gebou is, het Brink bygevoeg.

Bronne: Times Live, ENCA, Sunday World

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief