KWAZULU-NATAL. – ‘n Ma (48) en haar dogter (22) is Vrydagmiddag in Emachobeni in Inanda dood gevind. Die polisie het die beweerde moordenaars Saterdag doodgeskiet.
Kol. Robert Netshiunda sê die vier beweerde verdagtes is noodlottig gewond in ‘n skietery met die polisie.
Na bewering het die polisie inligting ontvang van verdagtes wat onderweg was om skoonmaakrituele in Mphphomeni uit te voer. Die voertuig soos in die inligting ontvang, waarin die beweerde verdagtes was, is in die Eskebheni-area in uMzinyathi onderskep. Die polisie het glo vir die bestuurder aangedui om te stop, waarop die insittendes in die voertuig glo op die polisie geskiet het. Die polisie het takties teruggeskiet.
Al vier die insittendes in die voertuig is noodlottig gewond. Drie vuurwapens is in die besit van die beweerde verdagtes gevind.





