KWAZULU-NATAL. – Elektrisiteit wat vir dae in die Wesham-area af was, het Donderdag hulp vir die slagoffers van ‘n beweerde huisroof vertraag.
KZN VIP Protection Services sê ‘n familie is na bewering aangehou deur ses gewapende verdagtes, wat daarna met waardevolle items in ‘n wit Polo Vivo met’n onbekende registrasienommer gevlug het.
Die slagoffers kon weens selfone wat glo as gevolg van die gebrek aan elektrisiteit nie gelaai is nie, nie hulp ontbied nie. ‘n Ander inwoner het KZNVIP gebel.
KZNVIP-paramedici het die getraumatiseerde slagoffers op die toneel bygestaan. Die polisie en ander rolspelers was ook teenwoordig.





