LIMPOPO. – ‘n Weldoener is Woensdagoggend omstreeks 09:00 kritiek gewond toe hy ‘n vrou wat glo in die Thavhani-mall in Thohoyandou beroof is, wou help.
Kol. Malesela Ledwaba sê daar word na die verdagtes gesoek.
Volgens voorlopige ondersoek het die weldoener ‘n vrou om hulp hoor skree en het hom na haar gehaas om hulp te verleen. Drie onbekende verdagtes was glo besig om die vrou by ‘n OTM van haar bankkaart te beroof, terwyl nog lede van die publiek probeer help het. Die man wat wou help, is egter geskiet en kritiek beseer, waarna hy deur nooddienste vir dringende mediese hulp na ‘n nabygeleë hospitaal geneem is.
Die polisie, wat na die verdagtes soek, het ‘n saak van poging tot moord geregistreer.
Ledwaba sê sodra die klaagster opgespoor word, sal ‘n roofsaak geregistreer word.




