Die Stad Kaapstad het die afgelope maande ’n aantal uitsettingsbevele vir hawelose tentkampe in die stad gekry.
Verlede week is die eerste groot hofbevel uitgevoer toe diegene wat onregmatig by die Groenpunt-tennisbane woon, uitgesit is. Hierdie hofbevele volg op agtien maande se noukeurige werk en beplanning en ’n ongekende poging om sorg en ondersteuning te bied aan almal wat in hierdie openbare plekke woon.
Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, sê die stad poog om haweloosheid op ’n sorgsame en menswaardige manier te hanteer. Terwyl stede regoor die wêreld met die uitdaging van haweloosheid worstel, volg Kaapstad ’n baanbrekende benadering om mense van die strate af te help en openbare plekke vir openbare gebruik te herstel.
“Dit is finansieel, wetlik en in die praktyk uiters moeilik vir enige Suid-Afrikaanse stad wat hoop om waardige, sorgsame oplossings vir die onregmatige besetting van openbare plekke te implementeer. In die lig van verskeie onlangse uitsettingsbevele uitgereik deur die hooggeregshof, deel ek graag vier insigte uit Kaapstad ter ondersteuning van die Stad se volhoubare oplossings om alternatiewe verblyf aan te bied. In elk van hierdie gevalle, in Groenpunt, dele van die oostelike middestad en Victoriaweg, het die Stad skuiling aan elke persoon met sorgsaamheid en respek gebied, asook volledige psigomaatskaplike ondersteuning.”
Hill-Lewis sê die stad het tot die volgende insigte gekom:
- Stede moet bereid wees om ’n aansienlike belegging te maak in die uitbreiding van waardige oorgangskuilings deur hul eie befondsing te gebruik, ten spyte daarvan dat hulle nie ’n grondwetlike mandaat of toegewese begrotings vir maatskaplike welsyn het nie. Dit is nodig aangesien NGO-bestuurde nagskuilings onvoldoende is om die uitdaging die hoof te bied, en daar geen nasionale befondsing ontvang word om dit te verander nie. Kaapstad belê ’n kwartmiljard rand om “Safe Space” fasiliteite oor die komende drie jaar uit te brei en te bedryf. Hierdie fasiliteite bied waardige skuiling, tesame met ’n reeks maatskaplike ondersteuningsdienste om mense volhoubaar van die strate af te help. Met die beplande opening van ’n nuwe ”Safe Space” in Groenpunt met 300 beddens die komende winter, sal die Stad binnekort meer as 1 000 beddens regoor die Kaapstadse middestad bied, met ’n groeiende voetspoor in ander dele van die stad. Dit is afgesien van die befondsing wat die Stad aan NGO-skuilings verskaf.
- Die tweede insig van Kaapstad se sorgprogram, is dat die huidige regs- en hofstelsel vereis dat stede uitgebreide hulpbronne toewy aan die bestuur van die komplekse web van regsprosesse wat nodig is om mense wettig uit openbare plekke te sit. Wetgewing vereis dat stede die howe moet nader vir ’n uitsettingsbevel waar ’n persoon enige struktuur oprig wat ingevolge die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Besetting van Grond, (die PIE-wet), as ’n woning beskou word. Hierdie hofbevel moet verkry word voordat enige uitsetting kan plaasvind, wat soms maande, indien nie jare nie, neem om van ’n hof te verkry. Oor die algemeen is hofrolle uiters vol, wat die aanhoor van sake op beide die bestrede en onbestrede rol vertraag. Sake kan ter elfder ure teengestaan word, en respondente kan ook opsetlik sake vertraag omdat hul regshulp nie in plek is of goed genoeg vertroud is met die saak nie, ’n onderwerp wat ek voorheen op hierdie platform bespreek het. Selfs wanneer die hof ’n bevel toestaan, kan daar steeds vertragings in die uitvoering van die uitsetting wees afhangende van die SAPD se beskikbaarheid en hulpbronne. Al hierdie vertragings rek bloot ’n persoon se onwaardige en ongesonde verblyf op straat uit, veral vir diegene wat ongelukkig alle aanbiedinge van maatskaplike ondersteuning weier, al is dit die beste vir hul welstand, veiligheid en gesondheid om van die strate af te kom. Dit is hoekom die aansoek om uitsettingsbevele slegs ’n laaste uitweg is ná al ons ingrypings om sorg en waardige alternatiewe verblyf te bied. Wanneer aanbiedinge van ondersteuning aanhoudend van die hand gewys word, moet ons ons tot die howe wend vir ingryping. Geen persoon het die reg om ’n openbare ruimte onregmatig te beset en dit net vir hulself te reserveer, terwyl hulle alle aanbiedinge van sorg en hulp weier nie.
- Die swerwersbestaan van mense wat op straat woon, maak dit moeilik om hul maatskaplike omstandighede te bepaal. Dit is nog ’n voorvereiste vir die verkryging van ’n uitsettingsbevel, en is dikwels baie moeilik om te bereik met die sekerheid wat ons howe vereis. Eerstehandse data van die onlangse sensus bied ’n geloofwaardige skatting van 6630 mense wat in Kaapstad se strate woon. Dit is ’n toename van die 4000 mense wat deur die Stad in 2018/19 getel is en kan veral toegeskryf word aan die Covid-19-pandemie, inperkings en die verwante ekonomiese impak. Mense wat op straat woon, verskuif dikwels deur die dag van plek en verander te eniger tyd waar hulle slaap, afhangende van waar hulle ’n inkomste kan kry. Sommige het nie identifikasiedokumente nie, terwyl ander dalk weier, vals inligting gee, of in geen toestand is om met die Stad se maatskaplike werkers te praat nie weens verslawingskwessies. Dit vereis uitgebreide menslike hulpbronne, en koördinering deur ’n bekwame owerheid, om elke persoon te identifiseer en op te teken, en hul persoonlike omstandighede en reaksies op aanbiedinge van maatskaplike ondersteuning te dokumenteer. Vertragings in hofprosesse vererger hierdie probleem, aangesien inligting verouderd raak en die Stad dan dikwels verplig word om weer ’n nuwe opnameproses te begin voordat ’n hofbevel toegestaan word. Na uitsetting moet ons maatskaplikesorgpersoneel ook ’n databasis bestuur van elke persoon wat verskuif is, en tred hou met hul vordering of regressie.Kaapstad belê in spanne van professionele maatskaplike praktisyns, sowel as ’n eenheid vir ontheemde mense, wat daagliks saamwerk om ondersteuning aan mense wat op straat woon te bied.
- Die vierde insig is dat stede slegs kan optree op grond wat hulle besit, terwyl baie van die groter tentkampe op terreine is wat deur verskeie nasionale regeringsdepartemente besit word. Dit is nie toevallig nie. Diegene wat onregmatig op hierdie plekke woon, weet dat hierdie nasionale departemente waarskynlik nie met dringendheid sal optree nie. Dit is nodig dat ander regeringsfere optree op hul grond. Talle inwoners het tereg ontsteltenis uitgespreek oor die stand van die Kasteel de Goede Hoop in Kaapstad. Die Departement van Verdediging en die nasionale Departement van Openbare Werke bestuur hierdie fasiliteit en die omringende grond. Ten spyte van ons voortdurende aandrang, was daar tot baie onlangs geen optrede deur hierdie departemente om hierdie terrein te herstel en openbare veiligheid daar rondom te verbeter nie. Ons is bly dat dit nou aandag blyk te geniet. Die Stad het aangebied om te help met die opname wat van die terrein om die Kasteel vereis word en ons is meegedeel dat die verantwoordelike nasionale departemente spoedig ’n uitsettingsaansoek sal indien.
Hill-Lewis sê hy opper nie die kwessies om te kla nie, maar in ’n poging om openbare bewusmaking te verhoog van wat dit verg om sorg aan die weerloses te bied en openbare plekke volhoubaar te bestuur. “Miskien sal dit ook welmenende invloedryke mense in Suid-Afrika se ander stede help wat Kaapstad se visie deel. Ten spyte van hierdie diepgaande probleme, wys ons onlangse suksesse dat ons ’n model het wat werk. Ons is versigtig optimisties dat ons openbare plekke kan herstel en ’n hand van sorg na die haweloses kan uitreik. Op hierdie manier bou ons ’n stad van hoop vir almal, waar selfs ’n persoon wat op straat woon, hoop kan hê om weer in die samelewing te integreer, met familie te herenig en volhoubaar van die strate af te kom. Met die regte kombinasie van vasberadenheid en hulpbronbelegging is dit vir ons stede moontlik om waardige oplossings te bevorder om mense van die strate af te help, terwyl ons verseker dat openbare plekke oop en beskikbaar is vir almal.”
As jy meer wil weet oor wat jou te doen staan as jy ’n struktuur sien opgaan in ’n openbare plek, klik hier.





