LIMPOPO. – ‘n Selfverklaarde pastoor (30) van Groblersdal is Saterdag vir sy betrokkenheid by beweerde bedrog om ‘n voertuig te verkry, in hegtenis geneem.
Volgens kol. Malesale Ledwaba het die verdagte homself as ‘n kerkleier voorgedoen. Hy het glo vals dokumente ingedien om ‘n luuksevoertuig in Polokwane (Pietersburg) te koop.
‘n Provinsiale taakspan het die verdagte, wie se identiteit teruggehou word, in hegtenis geneem nadat die bank ‘n saak van bedrog geregistreer en hy by die motorhandelaar opgedaag het.
Tydens die inhegtenisneming het die polisie op ‘n vals bankstaat, bewys van werk en salarisadvies beslag gelê. Daar is vasgestel dat die verdagte glo ‘n niksvermoedende vrou in die gemeente se inligting gebruik het om ‘n profiel en vals dokumente te skep.
Die ondersoek duur voort.
Die verdagte sal vandag in die Polokwane-landdroshof verskyn.





