KWAZULU-NATAL. – ‘n Man (38) is Vrydag ernstig beseer toe hy glo van ‘n brug in Phoenix gespring het.
Reaction Unit South Africa sê reaksiebeamptes was op patrollie toe hulle omstreeks 11:38 voorgekeer is.
‘n Beseerde man is gesien wat meters onder ‘n brug op die grond lê. Hulp is vir hom ontbied. Die man se suster het aan die beamptes vertel hy het van ‘n operasie na hulle huis in KwaMashu teruggekeer waar hy na bewering deur hulle voorvaders “oorgeneem” is en hy van die brug gespring het.
Volgens Rusa-beamptes het die man frakture aan sy bene en pelvis opgedoen, waarna hy gestabiliseer en na ‘n hospitaal vervoer is.





