VRYSTAAT. – ‘n Voertuig wat na bewering gekaap en opgespoor is, het die polisie Donderdag na ‘n gewonde slagoffer gelei.
Sers. Mahlomola Kareli sê Tracker SA het omstreeks 05:10 die Bloemfontein-blitspatrollie laat weet daar word volgens ‘n sein met ‘n opsporingstoestel van ‘n voertuig gepeuter.
‘n Silwerkleurige Opel Corsa met Gauteng-registrasienommers is daarna in ‘n oop ruimte agter Phahameng-begraafplaas gevind. Die voertuig was sonder sy wiele en battery, alhoewel niemand die voertuig as gesteel of gekaap aangemeld het nie.
Na eienaarskap vasgestel is, is die polisielede na die eienaar van die voertuig se huis in Phahameng waar die eienaar met ‘n bloeiende skietwond aangetref is. Die slagoffer het vir die polisielede gesê hy het omstreeks middernag by die huis aangekom waar hy glo deur twee onbekende verdagtes aangeval is. Hy het probeer vlug, maar is in sy rug geskiet. Die verdagtes het met sy voertuig weggejaag. Die slagoffer kon tot in sy huis beweeg waar hy nooddienste gekontak het.
Daar is beslag op die voertuig gelê en ‘n saak van motorvoertuigkaping word ondersoek.
