WES-KAAP. – Daniel Botha, ‘n matriekleerder van Hoër Jongenskool Paarl, se hart het die naweek in Heronbridge ophou klop toe hy met ‘n hokkiestok op die bors getref is.
Volgens ‘n plasing van die skool was Daniel deel van ‘n o.19-hokkietoer toe die ongelukkige insident plaasgevind het. Toe die hokkiestok hom tref, het sy hart dadelik gaan staan, hy het ophou asemhaal en het sy bewussyn verloor.
KPR is op die veld toegepas, waarna hy in die intensiewesorgeenheid van ‘n hospitaal opgeneem is en ‘n CT-skandering gedoen is.
“‘n CT-scan het erge hart-, long-en lugpypkontusie gewys en hy is toe in die ICU opgeneem vir observasie.”
Daniel is ontslaan en sterk tans tuis aan.
“Ons is dankbaar vir sy spoedige herstel en vertrou dat hy gou weer op die been sal wees.”
Boodskappe van beterskap vir Botha het in kommentaar op die plasing ingestroom.





