GAUTENG. – Abraham Molelekwa (33) is vir die steekdood van Maria Mnguni (47), sy vrou, op 31 Desember 2023, voor hulle jongste dogter (10), tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Molelekwa het boonop die ma saam met hulle dogter in ‘n kamer toegesluit nadat hy haar gesteek het.
Kapt. Johan van Dyk sê aan Nuusflits op die betrokke aand het die paar Nuwejaar saam met vriende gevier en alkohol gebruik. Hulle tienerdogter (17) het by vriende oorgeslaap, terwyl die jongste dogter tuis was.
Na middernag het ‘n argument ontstaan en Mnguni het na hulle slaapkamer gevlug, waar die jonger dogter ook was. Molelekwa het sy vrou aangerand, is die kamer uit en het met ‘n skroewedraaier teruggekeer. Mnguni is verskeie kere in die nek en bors gesteek. Die jong dogter het om hulp geroep, maar Molelekwa het gedreig hy sou haar ook steek indien sy raas. Molelekwa het daarna die jong dogter en haar ma in die kamer toegesluit en gevlug. Hy het ook van die bewysstukke ontslae geraak.
Die volgende oggend kon die tienermesie nie toegang tot die huis kry toe sy terugkeer nie. Sy het geroep en die jonger dogter het vir haar deur die venster gesê hulle pa het hulle ma doodgemaak. Die bevreesde jong kind het die hele nag in die kamer deurgebring. Haar suster het hulp van die bure gevra, waarna die deur afgebreek en Mnguni leweloos aangetref is. Die polisie is ontbied en ‘n moordsaak is geopen. AO Lourens Lemmer van Wonderboompoort-speurtak het die ondersoek waargeneem.
Molelekwa, wat by familie in Soshanguve geskuil het, het sy dade aan die familie beken en hulle het hom na die naaste polisiestasie geneem, waar hy homself oorhandig het. Die Wonderboompoort-polisie is oor die verdagte ingelig, waarna Molelekwa gearresteer is.
Van Dyk sê maj.genl. Samuel Thine prys AO Lemmer vir die ondersoek wat tot die suksesvolle skuldigbevinding en vonnisoplegging gelei het.





