KWAZULU-NATAL. – Thembi Simelane, die minister van menslike nedersettings, het opdrag vir die onmiddellike hervestiging van huishoudings wat deur grondverskuiwings in Umlazi geraak is, gegee.
Tsekiso Machike, woordvoerder vir die minister, sê die nasionale bouersregistrasieraad is opdrag gegee om strukturele integriteit- en geotegniese assesserings uit te voer ten einde die nodige ingryping vir die geraakte huishoudings in Seksie H, in Umlazi, te bepaal. Simelane en Siboniso Duma, die LUR vir die departement in die provinsie, het Umlazi besoek om die skade wat deur onlangse reën veroorsaak is, te evalueer. Die reën het gelei tot grondverskuiwings en die vernietiging van sowat 56 huise wat tot dusver geassesseer is.
“Gebaseer op wat ek met my eie oë gesien het, sal die hervestiging van hierdie huishoudings die beste oplossing wees. Terwyl die assessering gedoen word, is die onmiddellike taak om sowat 56 gesinne na tydelike noodakkommodasie te verskuif,” sê Simelane.
Die mees geraakte gesinne moet volgens die minister binne 48 uur hervestig word. Die proses is reeds aan die gang. As ’n langtermynmaatreël sal die eThekwini-munisipaliteit en die provinsiale departement van menslike nedersettings ’n stuk grond geïdentifiseer wat gebruik sal word om die geraakte huishoudings permanent te vestig. Simelane het ook ’n beroep op gemeenskappe gedoen om die geraakte huishoudings gasvry te ontvang en nie hul eie belange ten koste van ander se nood te bevorder nie.
LUR Duma het onderneem om toe te sien dat al die opdragte van die minister volledig uitgevoer word.
Lees meer hier.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





