MPUMALANGA. – ‘n Man (74) en sy vrou (72) is Maandagaand omstreeks 18:45 in Rhenosterkopvallei deur verdagtes wat deur die polisie gesoek word, aangeval en beroof.
Lt.kol. Jabu Ndubane sê volgens inligting het die bejaarde vrou van ‘n skoolbyeenkoms by die huis teruggekom en nie dadelik haar man in die huis gevind nie. Terwyl sy na hom gesoek het, is sy oorval en aangerand. Bure het haar geskreeu gehoor en ‘n gewapende reaksie-veiligheidsmaatskappy ontbied. Met aankoms van die veiligheidspersoneel het die verdagtes van die toneel gevlug.
Die vrou se man is later ernstig beseer en met skoenveters vasgebind in ‘n buitekamer aangetref, waarna hy vir mediese behandeling na ‘n hospitaal geneem is. Die verdagtes het persoonlike items van die egpaar, op R40 000 geskat, gebuit.
Ndubane sê alle beskikbare eenhede is geaktiveer om die voorval te ondersoek. Tydens die polisie se voorlopige ondersoek op die misdaadtoneel is ‘n kapmes en ‘n wolmus gevind wat as leidrade in die ondersoek beskou word. Die polisie is vasbeslote om die verdagtes vas te trek.
Enigiemand met relevante inligting word gevra om kol. Thami Mkhaliphi by 082 469 2431 te bel.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]

