Chris Steyn en Bella se liedjie ‘Winter in die Kaap’ roer harte

Lees ook :

Foto: Hendri Viljoen

Chris Steyn, oftewel Plakkies, wenner van Die Kontrak-Seisoen 3, het sy stem by dié van Bella (Coleske), ‘n liedjieskrywer van formaat, gevoeg. ‘n Sielvolle enkelsnit-duet genaamd Winter In Die Kaap kan geniet word, wat reeds in die nommer 1-plek op Apple Music pryk.

Fanie Nel van die Coleske Groep sê in ‘n persverklaring die enkelsnit roer harte. Die samewerking tussen Chris en Bella het mettertyd gegroei. Dié twee het reeds in 2023 saam begin liedjies skryf en nou, twee jaar later, deel hulle ’n liedjie wat vir albei persoonlik betekenisvol is. Winter In Die Kaap verken die uitdagings van ’n verhouding in moeilike tye, vergelyk met die gure Kaapse winter, maar bring ook ’n boodskap van hoop, liefde en herstel. Lees hier onder wat die twee sangers te sê het.

“Ek en Bella het die liedjie saam geskryf en nooit gedink dat ons dit eendag sou saam sing nie, maar nou is dit ’n realiteit en ons is baie opgewonde daaroor. Die liedjie gaan oor ’n tyd in ’n mens se lewe wanneer dinge moeilik is, en jy wens daar was iemand om jou vas te hou en vir jou raad te gee. Dit is eerlik en rou. Bella het ongelooflike kennis van musiek en weet hoe om ’n liedjie te verryk met melodieë en gevoel. Ek het baie geleer deur saam met haar te werk,” sê Chris.

“Dis daardie gevoel van verlange, nie net na plekke nie, maar na mense en tye wat verby is en steeds ’n plek in jou hart het. Nostalgie is die hartklop van hierdie liedjie. Ek het nooit gedink ek sal ooit self iets uitreik nie, ek sien myself steeds meer as ’n liedjieskrywer as ’n sanger. Maar om hierdie liedjie, wat so na aan my hart is, saam met Chris te sing, is iets besonders,” verduidelik Bella, wat dit as ‘n hoogtepunt in haar loopbaan beskryf.

Nel sê voorts die musiekvideo vir Winter In Die Kaap is deur Elias in die pragtige, maar yskoue omgewing van Stellenbosch en Somerset-Wes verfilm.

“Dit was seker die twee koudste dae van my lewe! Die wind het ons amper van die berg afgewaai,” lag Chris. Vir Bella, wat tans in Stellenbosch studeer, was die verfilming ’n ekstra spesiale ervaring: “Al het ons gevries, was dit een van die lekkerste dae en definitief iets wat ek nooit sal vergeet nie.”

Nel sê Met Winter In Die Kaap bring Chris en Bella nie net hul kreatiewe vermoëns bymekaar nie, maar ook hul harte en dit weerklink in elke noot.

“Ons hoop luisteraars vind aanklank by die emosie in die liedjie. Dis ’n herinnering dat ons almal moeilike tye beleef, maar ook dat daar altyd hoop is,” sluit Chris af.

Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief