KWAZULU-NATAL. – Verskeie polisie-eenhede en ander rolspelers het Donderdag toegeslaan op ‘n laboratorium wat daggaplante naby Morningside in Durban kweek. Die laboratorium is tot niet gemaak en ‘n verdagte (43) is op aanklagte van dwelmhandel in hegtenis geneem.
Lt.kol. Simphiwe Mhlongo, Valke-woordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits die polisie het inligting oor ‘n laboratorium ontvang. ’n Operasie is van stapel gestuur waarna die betrokke gebou deursoek is. Daggaplante, Ecstasy-tablette, crack-kokaïen, chemikalieë en toerusting met ’n geskatte straatwaarde van ongeveer R350 000 is in die gebou gevind.
Die verdagte het Vrydag in die Durban-landdroshof verskyn.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





