OOS-KAAP. – Robert Evans (58), ‘n bekende Gqeberha-sakeman, se formele borgtogaansoek is suksesvol deur die NVG teengestaan. Evans word daarvan beskuldig dat hy Vanessa van Rensburg (36) met voorafbedagte rade doodgemaak het.
Luxolo Tyali, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits die suksesvolle teenkanting kom presies twee maande ná Evans se inhegtenisneming en ná verskeie formele borgtogverrigtinge. Evans word ook deur ook aanklagte van poging tot moord, ontvoering en regsverydeling in die gesig gestaar.
Van Rensburg se liggaam is 20 April, Paassondag, in die vroeë oggendure in Evans se vakansiehuis in Oesterbaai gevind. Volgens die polisie het sy aan veelvuldige beserings beswyk. Evans is op 9 Mei deur die Valke by sy sakeperseel in Gqeberha in hegtenis geneem. Van Rensburg, ‘n ma van twee minderjarige kinders en ’n werknemer by die sakeperseel wat deur Evans in mede-besit is, het glo op 11 Mei 2023 ’n verhouding met hom begin.
Bianca Burger, die staatsaanklaer, het tydens die borgtogverrigtinge in die Humansdorp-landdroshof sterk teen Evans se vrylating geargumenteer. Sy het aangevoer dat die beskuldigde weens sy finansiële vermoëns ’n beduidende vlugrisiko inhou en het op wesenlike teenstrydighede en inkonsekwenthede in sy weergawe van die gebeure gewys. Sy het ook Evans se verweer oor sy rol in die maatskappy uitgelig waarmee hy die hof wou mislei – oor die moontlike ineenstorting van die besigheid indien hy in aanhouding sou bly.
Die hof het met die vervolging saamgestem en bevind dat die beskuldigde nie buitengewone omstandighede getoon het wat borgtog regverdig nie. Verder het die hof die erns van die aantygings binne die konteks van die land se voortgesette stryd teen geslagsgebaseerde geweld (GBV), wat steeds ’n wydverspreide en kommerwekkende kwessie in gemeenskappe is, erken .
Die saak is vir verdere ondersoek tot 18 Augustus uitgestel.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]


