GAUTENG. – Die Pretoria-hooggeregshof het ’n finale verbeurdverklaring van R4 miljoen, plus rente, toegestaan teen ’n maatskappy wat aan Desirée Liebenberg (Dezzi), die eggenoot van Louis Liebenberg, gekoppel word.
Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring die batebeslagleggingseenheid het geld in ’n Standard Bank-rekening van ZencoCare (Edms.) Bpk. gehou. Dit spruit voort uit onwettige aktiwiteite van ZencoCare, wat deel was van die Forever Diamonds and Gold-groep, wat beleggers verlei het om in diamantpakkies te belê. Ondersoeke het getoon dat die diamante nooit bestaan het nie en dat die skema tipies van ’n onwettige piramideskema (Ponzi-skema) was.
In 2024 het ZencoCare R5 miljoen aan prokureurs oorgeplaas. Hiervan is R1 miljoen vir mynbou-verwante aktiwiteite aan Eskom betaal, terwyl R4 miljoen bewaar is. Dié bedrag is nou verbeurd verklaar en sal in die Kriminele Bateverhaalrekening (CARA) inbetaal word.
Louis en Desirée Liebenberg, saam met sewe mede-beskuldigdes, word deur klagtes van bedrog, diefstal, rampokkery en geldwassery in die gesig gestaar. Hulle verskyn weer op 25 November in die Bronkhorstspruit-landdroshof. Die Liebenbergs bly in aanhouding, terwyl die mede-beskuldigdes op borgtog vrygelaat is.





