Gayton McKenzie, die minister van sport, kuns en kultuur, het Woensdag ‘n formele ondersoek gelas na staatsbefondsing wat aan verskeie feeste toegestaan is.
In ’n verklaring aan sy departement se senior bestuur het McKenzie veral verwys na die Kaapstad Internasionale Jazzfees, wat gedurende die 2019/20-boekjaar R3 miljoen ontvang het. Volgens hom toon beskikbare inligting dat die geld nie terugbetaal is nadat die fees tydens die Covid-19-inperking van Maart 2020 nie plaasgevind het nie.
McKenzie het verder gevra dat daar vasgestel word hoeveel ander feeste op dieselfde wyse befonds is sonder dat ’n geleentheid plaasgevind het. Hy het beklemtoon dat die finansiële state van alle groot feeste oor die afgelope vyf tot tien jaar aan hom beskikbaar gestel moet word, sodat seker gemaak kan word dat subsidies wel aangewend is waarvoor dit bedoel is.
Die minister was onlangs in die spervuur nadat sy departement hoë fooie vir kultuurfeeste aangekondig het, wat volgens organisasies talle feeste in ‘n finansiële krisis dompel. Feeste soos die Cape Town International Jazz Festival het gekla dat meer as 3 000 werksgeleenthede in gedrang is weens die onlangse onttrekking van staatsbefondsing. Organiseerders sê hulle is genoop om self finansiering te vind om feeste aan die gang te hou.
Die beleid is deel van ’n skuif om befondsing deur die Mzansi Golden Economy (MGE) Fund te herstruktureer, wat feesorganiseerders nou dwing om nuwe aansoeke in te dien en wat volgens sommiges bevooroordeeldheid in die toekenning en ’n gebrek aan deursigtigheid tot gevolg sal hê. Die DA eis dat borge vir feeste heringestel word, alle toekenning van MGE-geld openbaar word, en ’n onafhanklike beoordelingspaneel aangestel word.
Bronne: IOL; Cape Times; DA







