MPUMALANGA. – Drie vroue het Sondag verdrink nadat hulle deur vinnig vloeiende water van die Middelburgdam meegesleur is. ‘n Groep van ses vroue is na die rivier by Towers Bridge op die ou Belfastpad om te bid, toe die voorval plaasvind het.
Luidens ‘n verklaring deur lt.kol. Jabu Ndubane, polisiewoordvoerder, het die rivier vinnig gestyg en van die vroue is meegesleur. Drie vroue het aan takke vasgehou totdat die polisie hulle kon red. Die drie is na veiligheid gebring, terwyl twee aanvanklik as vermis aangemeld is.
Die soektog is weens slegte weer gestaak en Maandag hervat, waarna die liggame van twee vroue uit die Klein Olifantsrivier gehaal is. Familie het aangedui dat drie vroue inderwaarheid vermis was. Die derde liggaam is later ongeveer 10 km stroomaf van die Klein Olifantsrivier gevind. ’n Geregtelike doodsondersoek is geopen om die drie sterftes te ondersoek.
Genl.maj. Zeph Mkhwanazi, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het die publiek aangemoedig om in die reënseisoen versigtig te wees en gevaarlike plekke te vermy.




