WES-KAAP. – Bheki Manxiwa (19) het Maandag op aanklagte van nege moorde, poging tot moord en twee gevalle van roof met verswarende omstandighede in die Athlone-landdroshof voorgekom. Die saak is vir ‘n volledige borgtogprofiel en verdere ondersoek tot 2 Februarie uitgestel. Omdat dit ’n skedule 6-saak is, moet die beskuldigde aan die hof bewys dat borgtog in die belang van geregtigheid is.
Volgens Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, sal die staat die borgtogaansoek teenstaan. Op die betrokke dag van die misdaad het die beskuldigde en ander persone glo in ’n ander area as die kroeg gesit en drink. Een van die verdagtes het na bewering ‘n vuurwapen met ‘n verlengde magasyn aan ‘n ander verdagte met die naam Loyd oorhandig. Hulle het daarna glo na ’n kroeg in Marikana gegaan waar hulle ’n vrou, mede-eienaar van die kroeg, en nege ander persone geskiet het. Nege van die slagoffers is dood, terwyl een persoon in ‘n kritieke toestand na ‘n hospitaal geneem is. Die beskuldigde het na bewering daarna geld en selfone van die slagoffers geneem.
Ntabazalila sê voorts die beskuldigde word aan die misdaad gekoppel deur getuies aan wie hy glo bely het, asook ander getuies. Daar is nog drie getuies wat deur die polisie ondervra moet word, wat hom glo verder aan die voorval kan verbind.
Die hof het beveel dat ’n foto wat die beskuldigde identifiseer nie gepubliseer mag word nie, aangesien ’n identifikasieparade nog moet plaasvind.





