WES-KAAP. – Die Stad Kaapstad het aansoeke oopgestel vir ondersteuning van sy Wintergereedheidsprogram, wat huisvesting aan kwesbare inwoners bied. Organisasies het tot 31 Maart om aansoek te doen vir hulp om bedkapasiteit uit te brei en tydens die winter vol te hou.
Rdl. Francine Higham, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, sê die kouer maande is veral moeilik vir mense wat op straat leef, wanneer meer mense skuiling en ondersteuning soek. Die program bied praktiese hulp aan skuilings, insluitend beddegoed, komberse, higiëne-items, voedsel en skoonmaakmiddels.
Skuilings wat tydelik ekstra beddens kan verskaf, kry ook bystand van personeel deur die Uitgebreide Openbare Werkeprogram (EPWP) om administratiewe en algemene take te hanteer. Die program vorm deel van die Stad se breër strategie, wat ook veilige ruimtes, die Straatmense-eenheid en openbare bewustheidsveldtogte, insluit om haweloses wat op straat slaap, te verminder.
Tussen Julie en Desember 2025 het die eenheid 6 103 versoeke en navrae hanteer, meer as 5 400 ondersoeke (screenings) gedoen en 9 500 opvolgbesoeke voltooi. Altesaam 1 075 mense was in skuilings of die Stad se veilige ruimtes geplaas. Sommige van die straatmense wat gedurende hierdie tyd ondersteun is, het werk gekry, insluitend as e-bestuurders en sjefs.
Die 2026-program loop van 4 Mei tot 30 Oktober. Geskikte organisasies moet:
- Geregistreer wees as ’n NPO of PBO
- Beskik oor fasiliteite om kliënte te akkommodeer en ondersteuningsprogramme aan te bied
- Voldoen aan die Vereistes van die Bevolkingssertifikaat (as hulle bedkapasiteit wil uitbrei)
- Voldoen aan gesondheids- en veiligheidsregulasies en ’n goedgekeurde bouplan hê
- ’n Ontwerpplan van die ekstra tydelike beddens voorsien
- ’n Sertifikaat van Aanvaarbaarheid vir Voedselinstellings hê
Aansoekvorms is beskikbaar by [email protected] of by www.capetown.gov.za/readyforwinter.
Druk hier om meer te lees.





