WES-KAAP. – Twee vroue en Amra Lifia, ‘n baba van nege maande oud, is Dinsdagaand omstreeks 22:00 tydens ‘n skietvoorval by Sunbird Court in Atholone doodgeskiet, en twee mans is gewond. Die polisie het die wrede moord veroordeel.
Kol. Andrè Traut, provinsiale polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits met aankoms van polisiebeamptes op die toneel is die vroue, 25 en 36 jaar oud, sowel as die baba, met noodlottige skietwonde gevind. Die gewonde mans is na ‘n hospitaal vervoer. Volgens voorlopige inligting het drie onbekende verdagtes die toneel verlaat. Die motief vir die aanval word ondersoek. Speurders van die eenheid vir ernstige en geweldsmisdade lei die ondersoek en alle hulpbronne word gebruik om die verdagtes op te spoor.
Die SAPD sê hulle doen alles moontlik om veiligheid en stabiliteit in Athlone te herstel en versoek dat enigeen met inligting oor die moorde na vore sal kom.

