INTERNASIONAAL. – Die VSA het ’n Iranse oorlogskip in internasionale waters in die Indiese Oseaan met ’n torpedo getref – een van sowat 20 Iranse vlootvaartuie wat volgens die Amerikaanse weermag reeds aangeval is.
Volgens NBC News het die vloot van Sri Lanka vroeër gesê hy het 32 mense gered nadat ’n noodoproep van ’n Iranse vlootskip, die IRIS Dena, ontvang is.
Die oorlogskip was een van Iran se nuutste en het in diep waters gepatrolleer. Dit was toegerus met swaar kanonne, oppervlak-tot-lug-missiele, teen-skip-missiele en torpedo’s, en het ook ’n helikopter aan boord gehad. Die vaartuig was aan die kus van Sri Lanka toe die voorval plaasgevind het. Plaaslike owerhede sê 87 liggame is reeds gevind en 32 mense is gered.
Die Amerikaanse president, Donald Trump, het vroeër verklaar dat die vernietiging van Iran se vloot een van sy belangrikste oorlogsdoelwitte is.
Intussen het Iran se toenemende vergeldingsaanvalle Amerikaanse teikens, reisspilpunte en olie-aanlegte regoor die Persiese Golf getref, terwyl Washington probeer verseker dat Amerikaners die Midde-Ooste verlaat.
Honderde mense het reeds regoor die streek gesterf. Volgens Iranse staatsmedia is meer as 940 mense deur Israeliese en Amerikaanse aanvalle dood, terwyl 11 mense in Israel gesterf het nadat Iran teruggeslaan het.
Die Amerikaanse regering het bevestig dat ses van sy soldate dood is, waarvan minstens vyf gesterf het toe ’n hommeltuig ’n hawe in Koeweit getref het.
Bronne: NBC News, Australian Broadcasting Corporation.




