MPUMALANGA. – Altesaam vier mense het omgekom, insluitend ‘n 2-jarige kleuter, toe ’n minibustaxi en ’n ligte afleweringsvoertuig Saterdagaand op die R581 tussen Malelane en Kamhlushwa met mekaar gebots het. Buiten die kleuter is die taxibestuurder en nog twee passasiers dood.
Moeti Mmusi, woordvoerder van die Mpumalanga-departement van gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling, sê 14 ander beseerdes is vir behandeling na die Shongwe-hospitaal geneem. Van die beseerdes was 11 passasiers van die minibustaxi en drie in die bakkie. Die presiese oorsaak van die botsing word nog ondersoek.
Jackie Macie, die LUR vir die departement, het motoriste gemaan om waaksaam te wees en die padreëls te gehoorsaam om noodlottige ongelukke te voorkom. Hy het bestuurders ook aangeraai om veral snags ekstra versigtig te wees wanneer sigbaarheid swakker is.
Macie het sy medelye met die families van die oorledenes uitgespreek en die beseerdes ’n spoedige herstel toegewens.




