WES-KAAP. – Twee bejaarde toeriste van Nederland is Vrydagaand net voor 24:00 op die luukse Red Roan Ranch-gasteplaas naby Swellendam aangeval. Die paar is glo met stokke aangerand op die plaas wat vir sekere gesondheidsdienste en as Airbnb aangewend word.
Na bewering het drie gemaskerde mans die gastehuis deur ‘n venster betree. Hulle het glo onder meer met ‘n skootrekenaar en ongeveer R400 in kontant op die vlug geslaan. Alhoewel plaaslike plaaswaglede die gebied met hommeltuie bespied het, is die aanvallers steeds voortvlugtig. AO Christopher Spies, polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits geen kriminele saak is vir ondersoek by die polisie aangemeld nie.
Ian Cameron, voorsitter vir die portefeuljekommitee van die polisie, sê in ‘n sosialemediaplasing volgens rapportering wat hy ontvang het, is die bejaardes vasgebind en beroof. Hulle is agterna vir hulle beserings na ’n nabygeleë hospitaal geneem. Die polisie ondersoek die voorval en vra dat enigiemand met inligting na vore kom. Geen inhegtenisnemings is nog gemaak nie.
Nuusflits het kommentaar van die gasteplaas gevra. Op die webtuiste van dr. Zaida Rivene word die plaas met sy kothuise as luukseplaasverblyf by Red Roan Ranch & Stud onder die Langeberge in Swellendam se Hermitagevallei beskryf – die tuiste van dr. Zaida Rivene se chiropraktiese welstandsentrum, Jim Montrose se Ayurvediese berading, en Zaid-Mon-Egiptiese Arabierperde.
Bronne: SAPD, EESRUF, Red Roan Ranch, Europa.com on X




