Die Nasionale Verbruikerskommissie (NVK) het die lugredery FlySafair na die Nasionale Verbruikerstribunaal verwys weens beweerde oortredings van die Verbruikersbeskermingswet. Dit kom nadat ‘n passasier weens ‘n oorvol vlug weggewys was.
Die kwessie het aan die lig gekom toe ‘n FlySafair-passasier met ‘n bevestigde bespreking by die lughawe opdaag, net om te verneem dat hy of sy nie kan vlieg nie – die vlug was oorvol geboek. Die klagte was egter nie ‘n geïsoleerde geval nie, aangesien talle ander passasiers dieselfde ondervinding gedeel het. FlySafair het nie die praktyk ontken nie en openlik bevestig dat oorboeking ‘n erkende deel van sy bedryfsmodel is.
Die NVK se ondersoek het aan die lig gebring dat FlySafair onder meer dienste oorverkoop het, gebruikers op ‘n misleidende wyse ingelig het, onredelike kontrakvoorwaardes toegepas het en nagelaat het om passasiers in duidelike en verstaanbare taal in te lig.
Die tribunaal moet nou beslis hoe die saak verder hanteer word.






