OOS-KAAP. – Twee polisiesersante is by ‘n huis in Parsonsvlei, Gqeberha, dood nadat die man na bewering sy vrou doodgeskiet en daarna die vuurwapen op homself gerig het.
Polisiewoordvoerder kol. Siphokazi Mawisa sê die voorval het kort ná middernag op Saterdag 18 Julie plaasgevind. Volgens voorlopige inligting was die egpaar in ‘n woordewisseling betrokke voordat die skietery uitgebreek het.
Met hul aankoms op die toneel het die polisie die liggame van ‘n 34-jarige vrou en haar 44-jarige man, albei polisiesersante, met skietwonde aangetref. Die vrou was aan Mount Road-polisiekantoor verbonde, terwyl haar man by New Brighton-polisiekantoor gestasioneer was. Hulle is op die toneel dood verklaar. Die polisie ondersoek die omstandighede van die voorval en het die vuurwapen wat vermoedelik in die skietery gebruik is, is vir verdere ondersoek gekonfiskeer.
Familie van die egpaar, kollegas en twee minderjarige kinders, wat tydens die voorval in die huis was, word deur die polisie se werknemergesondheid-en-welstandsprogram (EHW) ondersteun. Die polisie het die voorval ten sterkste veroordeel en polisielede aangemoedig om hulp te soek wanneer hulle emosionele of persoonlike probleme ervaar.





