VRYSTAAT. – Die saak teen nege polisiebeamptes van Bultfontein, wat op aanklagte van moord teregstaan, is vandag vir ‘n voorverhoor in die Vrystaat-hooggeregshof in Welkom tot 5 Oktober uitgestel.
Volgens Opod-woordvoerder, Phaladi Shuping, staan die beskuldigdes op vier aanklagte van moord tereg wat spruit uit ‘n voorval in Phahameng op 22 September 2024. Volgens die ondersoek is lede van die openbare orde polisiëringseenheid (OOP) na ‘n klagte van huishoudelike geweld. Drie familielede het hulle glo in ‘n huis toegesluit en die ingange versper toe die polisie hulle in hegtenis wou neem. Daar word beweer dat die polisielede taktiese toegang tot die woning uitgevoer het, waartydens skote geskiet is. Drie familielede – Mmota Maleka (36), Lobisa Maleka (28) en Andries Maleka (30), asook konst. Mojalefa Borole (30) – is dood.
Die nege beskuldigdes, wat vroeër op borgtog van R3 000 elk vrygelaat is, se borgtog is verleng.





