NOORDWES. – ’n Vroulike ryloper wat van Wolmaransstad na Vryburg onderweg was, is na bewering met ’n vuurwapen beroof nadat sy ’n saamrygeleentheid in ’n wit Volkswagen Polo aanvaar het.
Kol. Anne Magakoe, polisiewoordvoerder, sê die voorval het Woensdagmiddag omstreeks 15:20 op die Wolmaransstad/Schweizer-Reneke-pad plaasgevind. Volgens die polisie is die vrou sowat drie kilometer buite Wolmaransstad deur die bestuurder met wat soos ’n vuurwapen gelyk het, gedreig en van haar geld en persoonlike besittings beroof. Sy is daarna glo in ’n afgeleë gebied afgelaai.
Sy kon daarin slaag om haar selfoon te versteek en ‘n foto van die voertuig te neem. Die foto is deur gemeenskapsgroepe versprei, waarna die polisie op die uitkyk vir die voertuig was. Twee mans en ’n vrou, tussen 26 en 39 jaar oud, is kort daarna in Makwassie opgespoor en in hegtenis geneem. Die vrou se eiendom is ook teruggevind.
Intussen is vasgestel dat die vermeende vuurwapen ’n namaaksel was. Die verdagtes sal na verwagting ook ingevolge die vuurwapenbeheerwet aangekla word. Die eienaar van die voertuig word ook verbind met ’n beweerde sakeroof wat op 9 Augustus langs Broadbent op die N12 in Wolmaransstad plaasgevind het.
Na verwagting sal die drie verdagtes vandag in die Wolmaransstad-landdroshof voorkom.


