GAUTENG. – Verskeie bote en jetties by Manten Marina aan die Vaaldam is beskadig nadat swaar donderstorms en sterk winde die gebied getref het.
Craig Lambinon, woordvoerder van die nasionale seereddingsinstituut (NSRI), sê dié diens is Maandagmiddag gemobiliseer nadat bote van hul vasmeerplekke losgeruk en beskadig is. ’n Gedeelte van die hawewal het ineengestort, terwyl piere (jetties) losgeruk of gesink het. Sommige bote het teen jetties en ander vaartuie gebots. Die bote was onbeman en niemand se lewe was in gevaar nie. Twee het egter gesink.
Bradley Naicker, stasiebevelvoerder van NSRI-Vaaldam, sê personeel van die marina, plaaslike lede van die gemeenskap en booteienaars het saam met NSRI-Vaaldam, NSRI-Witbank en NSRI-Gauteng gewerk om die vaartuie te beveilig. Die reddingswerk is weens aanhoudende sterk winde en donderstorms bemoeilik, maar het Donderdag voortgegaan toe die weer verbeter het. Vier vaartuie is na die Gauteng-kant van die Vaaldam begelei en veilig by ander marinas vasgemeer. Minstens 15 ander bote is binne die hawe verskuif en beveilig, terwyl van die losgerukte jetties ook vasgemaak is.
Die situasie sal oor die naweek verder beoordeel word, aangesien sommige bote stormskade opgedoen het. Geen beserings is tydens die operasie aangemeld nie.


