VRYSTAAT. – Barend van der Berg (84) is tot lewenslange tronkstraf gevonnis nadat hy aan die verkragting van ‘n agtjarige meisie in die Petrusburg-streekhof skuldig bevind is.
Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder, sê Van der Berg is ook skuldig bevind aan seksuele intimidasie en omdat hy ’n kind aan ’n seksuele misdryf blootgestel het. Die misdrywe het in Julie 2024 plaasgevind. Hy is hiervoor tot onderskeidelik 15 en vier jaar tronkstraf gevonnis.
Die hof het bevind Van der Berg het kinders na sy huis gelok deur kos en verversings aan te bied en hulle te nooi om in sy swembad te swem. Die meisie het getuig dat hy haar herhaaldelik in sy slaapkamer seksueel aangerand het terwyl ander kinders teenwoordig was. Haar getuienis is deur twee kindergetuies en mediese getuienis ondersteun. Van der Berg het die bewerings ontken, maar die hof het sy weergawe verwerp en die kinders se getuienis as geloofwaardig aanvaar.
Die hof het geen rede gevind om van die voorgeskrewe minimum vonnis af te wyk nie. Van der Berg se naam is ook in die nasionale register vir seksuele oortreders aangebring en hy is ongeskik verklaar om met kinders te werk.





