Brekende Nuus
Nuus

Action Society sê oor Ramaphosa se plan

Foto: Ter illustrasie

Action Society sê president Cyril Ramaphosa se aankondiging van nuwe maatreëls teen geslagsgebaseerde geweld (GBV) herhaal probleme wat volgens die organisasie reeds jare lank bestaan.

Ramaphosa het Dinsdagaand in sy toespraak oor die moorde op vroue in Ekurhuleni erken dat die regering se pogings om GBV en vrouemoorde te bekamp “nie genoeg was nie”. Hy het onder meer opdrag gegee dat onopgeloste moord-, verkragtings- en ernstige seksuele misdaadsake binne 60 dae hersien word, met herstelplanne vir sake wat vasgeval het. Action Society sê egter ’n nuwe hersiening of plan beteken nie noodwendig dat sake tot arrestasies en vervolgings sal lei nie.

Juanita du Preez, nasionale woordvoerder van Action Society, sê die president het self verwys na beskermingsbevele wat nie altyd beskerm nie, forensiese monsters wat onverwerk bly en sake wat weens swak ondersoeke of verlore dossiere in duie stort. 

Die organisasie vra dat die omvang van die forensiese agterstand bekend gemaak word, dat kritieke vakatures gevul word en dat die regering aandui hoeveel sake werklik vorder. Action Society het ook gevra waarom die nasionale register vir seksoortreders nie in die toespraak genoem is nie en sê gereelde misdaadstatistieke oor vroue en kinders is nodig om die omvang van die probleem en enige vordering te meet.

Du Preez sê Action Society sal die regering aan die aangekondigde 60- en 90-dae-spertye hou en vra dat daar openbaar verslag gedoen word oor watter sake gevorder het en hoe beskermingsbevele en forensiese bewyse hanteer word.

Druk hier om meer te lees.