Brekende Nuus
Diere

Vrou vas nadat hond glo met kos gelok en omgery is

’n 75-jarige vrou is in Kalifornië in hegtenis geneem nadat ’n nege maande oue pitbull-kruising glo met kos na ’n minibussie gelok en omgery is. Die hond, Blackey, het aan sy beserings gevrek.

vrou vas hond glo gelok en omgery
Foto ter illustrasie

SANTA ANA, KALIFORNIË. – Hahn Nguyen, ’n 75-jarige vrou, is op 1 Oktober in hegtenis geneem nadat ’n nege maande oue pitbull-kruising glo met hondekos na haar minibussie gelok en daarna omgery is.

Die hond, Blackey, het aan sy beserings beswyk ná die voorval op 8 September in Santa Ana, Kalifornië.

Volgens die Santa Ana-polisie wys beeldmateriaal hoe ’n vrou die swart-en-wit hond uit ’n Honda Odyssey-minibussie haal en hom naby die voertuig plaas. Sy sit daarna hondekos naby die bestuurder se deur.

Toe Blackey na die kos beweeg, het die vrou glo vorentoe gery. Die voertuig se agterste wiel het oor die hond gery en die minibussie het volgens die polisie sowat 15 sekondes bo-oor hom gebly voordat die bestuurder weggery het.

Dierebeheerbeamptes het op 8 September op ’n berig van ’n dooie hond in die omgewing van West Park Lane gereageer. ’n Buurtbewoner het die polisie vertel dat sy vermoed het die hond is opsetlik omgery.

Speurders het daarna toesigbeeldmateriaal bekom wat volgens die polisie die getuienis ondersteun het. Die nommerplaat van die voertuig was egter nie duidelik op die beeldmateriaal sigbaar nie.

Die polisie het op 30 September die beeldmateriaal openbaar gemaak en die publiek gevra om te help om die bestuurder te identifiseer.

Speurders het vervolgens outomatiese nommerplaatherkenningstegnologie gebruik om die voertuig te identifiseer. Die ondersoek het hulle na ’n adres in Anaheim gelei, waar hulle die 75-jarige Hahn Nguyen en die betrokke voertuig gevind het.

Nguyen is in hegtenis geneem en in die Santa Ana-tronk onder verdenking van dieremishandeling en dierverlating aangehou.

Volgens die polisie het Nguyen erken dat Blackey aan haar behoort het en dat sy hom verlaat het. Sy het volgens die polisie aan speurders gesê sy het die hond by ’n park gelos omdat hy haar kêrel gepla het deur aan sy skoene en ander besittings te byt.

Die polisie sê Nguyen het nie erken dat sy Blackey omgery het nie. Die saak word aan die Orange County-distriksprokureur voorgelê vir oorweging van vervolging.

Bronne: Santa Ana Polisie, Los Angeles Times, ABC7 Los Angeles