KWAZULU-NATAL. – Die Durbanse metropolisie het Vrydag ’n Ugandese burger in hegtenis geneem nadat daar na raming R1,6 miljoen se vervalste geld tydens ’n klopjag by ’n luuksewoonstel in Umhlanga Ridge gevind is.
Die Durbanse metropolisie se taktiese ondersteuningseenheid het die operasie saam met die Valke en die teen-dwelmmisdaadeenheid in in Port Shepstone uitgevoer nadat inligting oor verdagte bewegings by die woonstel ontvang is.
Volgens die metropolisie is daar tydens die klopjag ook vasgestel dat die woonstel na bewering as ’n bordeel gebruik is. Die verdagte word ook verbind met ’n sogenaamde Black Dollar-skema waarin vervalste geld gebruik word. Die polisie se plaaslike kriminele rekordsentrum het vingerafdrukke en DNS-monsters by kluise op die toneel versamel.
Benewens die vervalste kontant is ’n iPhone 16, ’n kluis en twee paspoorte met verstreke visums in beslag geneem. Die man word aangehou by die Durban-Noord-polisiekantoor en staan tereg op aanklagte wat verband hou met geldvervalsing, oortreding van die Suid-Afrikaanse reserwebankwet, die bedryf van ’n bordeel en onwettige immigrasie. Hy sal na verwagting Maandag in die Durbanse-landdroshof voorkom.
