Brekende Nuus
Nuus

Mosambieker tronk toe ná invoer van mortierbom

Foto: Ter illustrasie

MPUMALANGA. – Antonio Charles Mugabe (26),’n Mosambiekse burger, is tot 10 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis nadat hy skuldig gepleit het op drie aanklagte wat verband hou met die besit, vervoer en invoer van ’n militêre mortierbom na Suid-Afrika.

Lt.kol. Magonseni Nkosi, Valke-woordvoerder, sê Mugabe het Maandag in die Boschfontein-streekhof verskyn. Die saak spruit uit ’n voorval op 23 Augustus vanjaar by die Lebombo-grenspos naby Komatipoort, waar beamptes tydens ’n gesamentlike grensveiligheidsoperasie ’n verdagte voorwerp in sy reissak ontdek het. Nkosi sê voorts die polisie en die inkomstediens het die bagasie tydens roetine-inspeksies geskandeer. ’n Deursoeking het ’n 60 mm-mortierbom, ’n militêre springstoftoestel, aan die lig gebring. Mugabe is by die grenspos in hegtenis geneem. 

Die Valke se eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad in Mbombela het die ondersoek behartig, waarna die saak van die Komatipoort-landdroshof na die Boschfontein-streekhof oorgeplaas is.

Mugabe het op al drie aanklagte skuldig gepleit en is 10 jaar direkte gevangenisstraf opgelê.