Nadat verskeie Afrikaners hul werk bedank en al hul besittings verkoop het om as vlugtelinge na die VSA te verhuis, is hulle deur die Amerikaanse vlugtelingprogram afgekeur.
Luidens ’n verslag uitgereik deur The Newsday bevind hierdie gesinne hulle nou in ‘n desperate finansiële posisie nadat hulle alles prysgegee het in die hoop op ‘n nuwe lewe in die buiteland. Hulle is egter afgekeur of sit vas in ‘n bottelnek van administratiewe rompslomp. Sonder ‘n inkomste of heenkome in Suid-Afrika bevind hulle hulle in ‘n desperate posisie.
Die Trump-administrasie het vroeg in 2025 ‘n spesiale vlugtelingprogram vir wit Afrikaners aangekondig. Dit was gebaseer op eise van vermeende “stelselmatige vervolging” en “volksmoord” in Suid-Afrika.
Ten spyte daarvan dat organisasies soos Solidariteit en AfriForum hulle van die “noodtoestand”-narratief gedistansieer het, het duisende individue tog aansoek gedoen.
Die kwota vir 2026 is onlangs van 7 500 na 17 500 verhoog.
Vir diegene wat wél in die VSA aangekom het (sowat 6 500 tot dusver), is die realiteit dikwels grimmig. ‘n Ondersoek deur The Free Press en Newsday het onthul dat vlugtelinge dikwels in sub-standaard behuising geplaas word en sukkel met voedselonsekerheid.
Strenger reëls en nuwe immigrasiewette van die Trump-era skep verdere struikelblokke vir integrasie.
Bron: Newsday | The Witness





