Kommentaar: Jhandré Bredenkamp, Rugby-adviseur, Nuusflits
Ná 65 minute was die Stormers presies waar hulle wou wees.
Hulle het in die wedstryd gebly, die tempo goed beheer en die All Blacks in feitlik elke faset van die spel geëwenaar. Daar was selfs ’n gevoel die Stormers kon dit dalk laat steel, of ten minste die wedstryd tot in die doodsnikke neem.
Maar binne tien minute het alles verander.
Die All Blacks het eenvoudig na ’n ander rat oorgeskakel. Hulle het die Stormers met kragspel teruggedwing, ’n paar foute genadeloos uitgebuit en skielik het die wedstryd oopgebreek.
Met 76 minute en sewe sekondes gespeel, loop Nieu-Seeland nou 33-14 voor.
Die wedstryd is vir alle praktiese doeleindes verby. Die vraag is nou eerder of die All Blacks in die laaste paar minute nog een of selfs twee drieë kan byvoeg.
Vir die Stormers sal die frustrasie wees hoe vinnig ’n wedstryd waarin hulle vir meer as ’n uur volledig mededingend was, in net ’n paar minute van hulle af weggeglip het.




