Deur Cornel Dunn vir LiG
Pieter Wagenaar, ʼn apteker in Bellville, het hom sowat twee jaar gelede by ʼn laagtepunt in sy lewe bevind. Terwyl hy weer gestaan en bedel het, het skaamte en moedeloosheid hom oorweldig. Hy het daardie dag by ʼn verkeerslig gestaan waar hy nog nooit was nie, in die hoop op ʼn geldjie om sy dwelmafhanklikheid te help voed.
God het egter ʼn ander plan gehad.
LEES OOK: Dwelmverslaafde, bosslaper, dief: ‘Sonder God is dít weer my voorland’
Dit was geen toeval dat hy op daardie dag by die nuwe bedelplek gaan staan het nie. Want dit was juis daar dat Johannes Janse van Rensburg, die bestuurder by Ramot Behandelingsentrum vir Substansafhanklikheid, hom raakgesien het. Pieter het in daardie stadium slegs 49 kg geweeg en hy het sere aan sy bene gehad.
Johannes het Pieter herken; Pieter was vroeër ook by Ramot, een van ses rehabilitasiesentrums waar hy behandeling ontvang het. Hy kon egter nooit daarin slaag om in die buitewêreld aan te pas nie. Johannes se eerste woorde aan Pieter was: “Jy kan nie so aangaan nie.” Pieter het nie ʼn antwoord gehad nie, hy het geweet hy het die einde van die vernietigingspad bereik.
Pieter (59) het in Bellville grootgeword, in ʼn liefdevolle en stabiele huis. Hy sê vandag: “Ek verskil van die denkwyse dat daar altyd ʼn diepgaande psigologiese probleem in ʼn verslaafde se grootwordjare moet wees. In my geval was dit eerder ʼn genetiese faktor.
“Ek glo wel dat ʼn traumatiese ervaring die verslawing kan aktiveer. Ek wil nie verskoning maak vir my verslawing omdat sulke gene in my familie voorkom nie; dis eerder ʼn neurologiese fenomeen.”
Pieter is nie getroud nie. “Ek was al in baie langtermynverhoudings betrokke,” vertel hy. “Om ʼn verskeidenheid redes het daar niks van gekom nie, en hoofsaaklik vanweë my verslawing.”
Alles het by alkohol begin
“My ‘ingangsdwelm’ was alkohol. Dit het in my weermagtyd en in my jare op universiteit ontstaan. Die meeste van my tydgenote het by sosiale geleenthede gedrink, maar by my het dit vinnig buite beheer geraak. My vriende was tevrede met ʼn paar drankies; ek kon nie ophou nie. As ek by ʼn sosiale geleentheid was, was ek altyd een van die vasbyters wat laaste geloop het.
“Ek was nog redelik onvolwasse en het dit nie as ʼn probleem beskou nie. Trouens, dit was destyds nogal ʼn macho-ding – wat natuurlik heeltemal belaglik is.”
Pieter het later wel begin om die erns van sy verslawing te herken, maar om daarvan afstand te doen was vir hom feitlik onmoontlik.
Hy sê dat verslawing ʼn eenvoudige konsep is wat jy te alle tye moet verstaan. As jy eers die grens oorgesteek het, “vorder” jy dikwels na ander substanse. En die sosiale aanvaarbaarheid van alkoholgebruik het tot gevolg dat die gevare daaraan verbonde dikwels onderskat word.
Van apteker na werklose verslaafde
“Mense moet tog daarop let dat as hulle ʼn kuiergeleentheid wil uitrek met die doel om meer te drink, daar reeds ʼn rooi vlag begin wapper. As jy boonop ʼn hoë toleransie vir drank het, is daar selfs ʼn groter moontlikheid om verslaaf te raak. Normaalweg hou mense op ná twee of drie drankies; alkoholiste nié. Dan word dit éérs lekker.
“Ek het my drinkgewoontes gerasionaliseer. Die werklikheid was egter dat my gedrag my geliefdes benadeel het. Dit duur lank om daardie geskende vertroue weer te herstel, indien dit ooit gebeur.
“Ook my werk het skade gely. Ek sou dikwels daar opdaag ná ʼn aand se kokaïen- en metamfetamien-gebruik – met ʼn reuse-babelaas.
KYK OOK: Van ‘rockstar’ na sober-leefstyl
“Ek sou ook moeg wees by die werk, en soms glad nie opdaag nie. My verslawing aan stimulante het by naweek-gebruik begin, toe het dit op weekdae begin gebeur, en toe word dit kompulsief.
“Ek het in daardie tyd met die gereg gebots. En ek het my werk verloor.”
Toe het hy nagskuilings begin naloop. Maar omdat hy daar nie enige drank of dwelms kon gebruik nie het hy uiteindelik op straat beland, haweloos. Hy vertel: “Ek het altyd vir myself gesê dat staan en bedel by ʼn verkeerslig vir my ʼn absolute rooi lyn sou wees. Ek het nooit gedink ek sou ooit daar beland nie. Ek sou myself eerder om die lewe bring.”
Morele veroordeling teenoor ʼn duidelike waarskuwing
“Dat ek vandag is waar ek is, is ʼn wonderwerk. Dis baie maklik om dwelms in die hande te kry. Ek het soggens wakker geword met geringe onttrekkingsimptome wat met verloop van tyd vererger het. Ek moes my dosis opiate (dit is dwelms wat dieselfde uitwerking as morfien op die liggaam het) in die hande kry. Dan het ek gebedel en ʼn nuwe dosis gekry. Maar wanneer die uitwerking daarvan weer afgeloop het, moes ek ʼn plan maak vir ʼn volgende dosis.
“Onttrekking van opiate is bitter erg, en ek het gewoonlik vier tot vyf dosisse per dag nodig gehad om te funksioneer.”
“Ek was in ʼn stadium baie siek. Ek het pankreatitis gehad, asook ʼn lewerkwaal. En erge psigose. Ek is tydens die inperkingstyd uit die hospitaal ontslaan en ek kon nie verwag dat ander mense my moes huisves nie. Dit was in daardie tyd dat Johannes my by die verkeerslig raakgeloop het.
“Die herstelpad was ʼn reuse-uitdaging. Dit wat ek my brein geleer het, moes deur intensiewe terapie ‘ont-leer’ word. Dis juis hier waar Ramot van groot hulp was. Daar is ʼn gebrek aan hulp vir herintegrasie in die gemeenskap ná rehabilitasie, maar ook hiermee het Ramot berge versit.”
Pieter reken dat die morele oordeel oor dwelmmisbruik vervang moet word met ʼn duidelike waarskuwing oor die skade wat dwelms vir jou liggaam inhou. Dan sal verslaafdes vroeër hulp soek en nie hul probleem probeer wegsteek omdat hulle voel hulle word veroordeel nie.
Geen rede om terug te val nie
Pieter se dwelmmisbruik het groot skade aan sy lewe aangerig. Mense het hul rug vir hom gedraai. Daar is dié wat steeds skepties is oor die sukses van sy rehabilitasie.
Hy sê hy verstaan dit heeltemal. Hy sê hy kan nie ander kwalik neem dat hulle voel soos hulle voel nie. Nie nadat hy 20 jaar lank verslaaf was nie.
“Maar ek is nou reeds ʼn jaar en ses maande lank ‘skoon’. Ek weet dit klink dalk kort; vir my is hierdie sukses lánk. Daar is geen rede om nou weer terug te val nie, al bly die sielkundige afhanklikheid ʼn hele tyd lank ʼn uitdaging. Maar ook dié kwessie word intensief en suksesvol in Ramot se rehabilitasieprogram aangepak.
“Ná vyf weke by Ramot was my program afgehandel. Ek het reeds met my tas by die ontvangstoonbank gestaan, gereed om ontslaan te word – met nêrens om te gaan nie. Maar intussen het Johannes gereël dat my program verleng word. As gevolg van dié soort vrygewigheid kon ek nóg tyd daar deurbring. Dit was ʼn genade, want as jy ná die herstelperiode weer aan jou eie genade oorgelaat word, kan dit slegte gevolge hê.
KYK OOK: 11 jaar verslaaf, 18 jaar skoon: ‘Kry genesing ná trauma’
“Vandag is ek ʼn vrywilliger by die sentrum. Nou het ek die geleentheid om by ander se reis na genesing betrokke te raak.”
‘Daar is altyd hoop’
Wat is Pieter se raad aan mense wat hulle in ʼn soortgelyke situasie bevind as dié waarin hy was?
“Indien jy voel jy het beheer verloor oor die middels wat jy gebruik, is jy in die moeilikheid. Die beste manier om dit te vermy is om dit nie ʼn deel van jou lewenswyse te maak nie. Mense sien die gevare van dwelms, maar hulle besef nie altyd hoe alkohol jou kan vernietig nie. Kry hulp. Daar is altyd hoop op ʼn nuwe lewe.
“Teen die einde van my pad as verslaafde het ek ʼn bonatuurlike ervaring gehad. Dit was tog nie toevallig dat ek juis op daardie dag by daardie verkeerslig gestaan het nie. Ek glo dat God deur mense werk, en dat Hy Johannes oor my pad gestuur het.”
- Besoek ramot.org.za vir meer inligting.
Nuusflits publiseer advertensies en geborgde inhoud vir bemarkingsdoeleindes. Die sienings en aansprake wat in advertensies geuiter word, weerspieël nie die standpunte van Nuusflits, sy redaksie, of enige van sy affiliasies nie.





