ASIë. – Die Stille Oseaan se tifoonseisoen is in volle swang, met drie storms – Dolphin, Peilou en Chan-Hom – wat terselfdertyd deur die streek beweeg.
’n Vierde storm het vroeër vandag gevorm: Nangka sal na verwagting sy krag behou terwyl dit die komende dae in die rigting van Japan beweeg, volgens die Japanse Meteorologiese Agentskap.
Augustus is al lank die hoogtepunt van die tifoonseisoen, maar vanjaar lyk dit of die seisoen intenser as gewoonlik gaan wees, hoofsaaklik weens ’n sterk El Niño.
Tifoon Dolphin, die sterkste storm wat China vanjaar getref het, het verswak namate dit binnelands beweeg het – hoewel daar steeds verwag word dat dit die komende dae swaar reën en sterk winde na dele van China sal bring. Benewens die ontruiming van minstens 30 300 mense, het Sjanghai sowat 1 500 vlugte gekanselleer, volgens die vlugopsporingsdataverskaffer VariFlight.
Sommige skade en geringe beserings is in en om Tokio aangemeld. Die reën het wel kortstondige verligting gebring vir inwoners van Japan, wat die afgelope tyd met ’n hittegolf te kampe gehad het.
In die Filippyne het oorstromings en grondverskuiwings minstens 26 mense se lewens geëis en woede oor korrupsie laat opvlam. Die korrupsie het daartoe bygedra dat die tifoongeteisterde land se infrastruktuur vir vloedbeheer ernstig onvoldoende is.
Bronne: BBC, The Guardian





