GAUTENG. – Beamptes van die Tshwane-metropolisie se motorfietseenheid en ’n oplettende gemeenskapslid het Saterdag ’n baba se lewe gered nadat die kind in ‘n gat onder die grond in Hammanskraal versteek aangetref is.
Kommissaris YCR Faro, TMPD-polisiehoof, het die beamptes en die gemeenskap geloof vir hul vinnige optrede ná die voorval Saterdagmiddag omstreeks 17:30. Die beamptes was besig met roetineverkeersdiens toe ’n vrou hulle genader het om hulp te vra om ’n taxi te kry. Hulle het haar gehelp en sy het in ’n minibustaxi geklim.
Kort daarna het ’n lid van die publiek na die beamptes gehardloop en gesê hy het vroeër gesien hoe die vrou ’n kind na ’n perseel by ’n herstelwerksentrum dra. Hy het hulle aangemoedig om die taxi te stop. Een van die beamptes het die taxi agternagesit en dit naby die Hammanskraal-polisiestasie tot stilstand gebring. Intussen het die gemeenskapslid na die perseel teruggekeer waar hy ’n baba ontdek het wat in ’n gat versteek en onder die grond begrawe was, maar nog geleef het.
Volgens die TMPD wys die voorval hoe belangrik dit is dat gemeenskappe waaksaam bly. Die owerhede het ouers en voogde ook herinner om kinders nooit sonder toesig te laat nie.







