GAUTENG. – Tselane Lebohang Mautlu (38) van Chris Hani in Hammanskraal is aangekla van die moord op Abokeng Minyuko (4), die buurvrou se seun. Mautlu is deur die Themba-landdroshof op borgtog van R5 000 vrygelaat.
Luidens ‘n verklaring van Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die NVG, word daar beweer dat die voorval op 25 Januarie, omstreeks 21:00, plaasgevind het toe die seun saam met ander kinders in die straat naby die beskuldigde se woning gespeel het en geskiet is. Die beskuldigde het glo, nadat sy besef het die kind is beseer, hom na ’n nabygeleë kliniek geneem waar hy met aankoms dood verklaar is. Sy het haar daarna by ’n polisiestasie oorgegee.
Borgtog is deur die staat teengestaan weens die erns van die aanklag en omdat die beskuldigde glo aan staatsgetuies bekend is. Die landdros het egter beslis dat dit in belang van geregtigheid is om haar op borg vry te laat, op voorwaarde dat sy uit die Chris Hani-gebied moet verhuis, twee keer per week by ’n polisiestasie moet aanmeld en nie ’n vuurwapen mag besit of gebruik nie.
Die saak is vir verdere ondersoek tot 15 April uitgestel.





