MPUMALANGA. – Ses mense is Sondagmiddag dood toe ’n GWM-sportnutsvoertuig (SUV) en ’n minibustaxi op die R540 naby Dullstroom in ‘n botsing betrokke was. Al die oorledenes was passasiers van die taxi en is op die toneel dood verklaar.
Luidens ‘n verklaring deur Moeti Mmusi, woordvoerder vir die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling, het nog agt mense – die bestuurder en sewe passasiers van die SUV – ernstige beserings opgedoen, afgesien van die ses sterfgevalle. Die taxibestuurder het ligte beserings opgedoen. Die beseerdes ontvang tans behandeling in ’n hospitaal in Belfast.
‘n Ondersoek na die oorsaak van die ongeluk is van stapel gestuur. Jackie Macie, LUR vir dié departement, het bestuurders gemaan om versigtiger en oplettender op die paaie te wees.
“Ons is diep bekommerd oor die aantal verkeerssterftes wat deur verantwoordelike bestuur vermy kan word. Motoriste moet onthou hul foute kan ernstige gevolge hê, nie net vir hulself nie, maar ook vir ander padgebruikers,” het Macie gesê. Hy het verder opgemerk dit is jammer dat mense steeds hul lewens in padongelukke verloor, al word die belangrikheid van veilige vervoer tydens Oktober se Vervoermaand beklemtoon.
Macie het sy innige meegevoel aan die families van die oorledenes betuig en die beseerdes spoedige herstel toegewens.





